Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 18 NOVEMBER 2018

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Die bulletin word deur ZS6JPL via Echolink herlei. ‘n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag:

SLUIT BY DIE SARL AAN VIR R99

DIE SARL NEWBIE GESELLIGHEID EN DIE SARL / AMSAT SA WERKSWINKEL OP 24 NOVEMBER

en

DIE EERSTE GEOSTASIONÊRE AMATEUR SATELLIET LANSEER

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

SLUIT BY DIE SARL AAN VIR R99

Die SARL bied jou die kans om vir net R99 op Swart Vrydag 23 November 2018 by die Liga aan te sluit. Jy moet verseker dat jou aansoekvorm en die R99 op Vrydag 23 November ingedien word. Dit is deel van die SARL se Swart Vrydag-veldtog.

DIE SARL NEWBIE GESELLIGHEID OP 24 NOVEMBER

Die Newbie Geselligheid is ‘n prettige aktiwiteit om alle nuwe radio amateurs aan te moedig om aktief te word en vind plaas van 08:00 tot 20:00 UTC op Saterdag 24 November 2018. Dit is slegs ‘n foon kompetisie op 20, 40 en 80 meter.

Die uitruiling en puntetelling hang af van hoe lank die amateur reeds ‘n amateur is. Logstate in MS Excel formaat moet teen 10 Desember 2018 per e-pos aan ZS3VdK@webmail.co.za gestuur word. Kry al die besonderhede in die 2018 Blou Boek.

IS JY BESKERM TEEN WEERLIG?

Sluit aan by die werkswinkel by die NARS op 24 November. Die SARL en AMSAT SA snoer kragte saam en bied ‘n werkswinkel aan oor die monitering van die RF geraasvloer en die impak daarvan op Amateur Radio. Daar sal ook groot fokus wees op weerlig beskerming.
Paul van As van Surgetek sal twee belangrike onderwerpe bespreek: Die mites rondom weerlig en praktiese aspekte van hoe om jou toerusting te beskerm.

Ander items op die agenda sluit in: Lansering van twee outomatiseerde stasies, ontwerp oorsig van ‘n Raspberry Pi outomatiseerde stasie, probleemoplossing van die opstel van ‘n RF geraasvloer monitering stasie met Anton Janovsky en Brian Jacobs, Oorsig van gestoorde data, tendense en analise, Draadlose Krag Oordrag en die skep van ‘n lys van RF vriendelike toestelle (energie besparende gloeilampe, LEDs, ens.), die teenoorgestelde van ‘n lys van produkte om nie te koop nie en ‘n eenvoudige toets om die geraas omgewing rondom jou huis te bepaal.

Die volledige program en registrasie vorm is beskikbaar op www.amsatsa.org.za. Bespreek nou. Die koste is R50 vir SARL en AMSAT SA lede en nie-lede betaal R150.

DIE 2019 SARL DAG VAN DIE RADIO AMATEUR

Die 2019 SARL Dag van die Radio Amateur sal oor die naweek op 12 tot 14 April 2019 in Stellenbosch gehou word. Die Boland ARK sal die geleentheid aanbied met 'n simposium op Vrydag 12 April, die AJV sal by die Data Voice House-ouditorium en die SARL-toekennings dinee sal by die Stellenbosch Gholfklub op 13 April gehou word. Meer inligting sal binnekort vrygestel word. Maak ‘n nota van die datums.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.

EERSTE GEOSTASIONÊRE AMATEUR SATELLIET LANSEER

Die Es'hail 2 satelliet is Donderdag 15 November suksesvol deur SpaceX vanaf Lanseer Kompleks 39A by NASA se Kennedy Ruimte Sentrum in Florida lanseer. Die lansering het om 20:46 UTC plaasgevind en die satelliet is in ‘n geostasionêre oorplaas wentelbaan geplaas ongeveer 32 minute na opstyging. Es'hail 2 dra ook die eerste amateur radio loonvrag wat in ‘n geostasionêre wentelbaan sal wentel. Es'hail-2 sal "parkeer" word 35 786 km bo die ewenaar teen 25,5° Oos, omtrent reg Noord van Pretoria en Johannesburg. Kry meer besonderhede en ‘n skakel oor hoe om ‘n eenvoudige en goedkoop grond stasie te bou van www.amasatsa.org.za.

DIGITALE HERHALER NUUS UIT DIE WES KAAP

In die Weskaap is daar tans 3 digitale herhalers aktief. Op Helderberg buite Somerset Wes is 'n UHF DMR herhaler op 438,350, op Botlaryberg buite Stellenbosch is 'n UHF multi-modus herhaler op 438,300 wat DMR asook D-STAR (Icom) en ook 4FM (Yaesu) behartig. Op Botlaryberg is ook ʼn BHF 145,575 D-STAR (Icom) herhaler.

DMR en D-STAR kan aan mekaar gekoppel word via ʼn digitale reflektor. Dus kan jy hierdie drie herhalers gebruik om digitaal met plaaslike amateurs binne Divisie 1 asook in ander divisies te kommunikeer maar jy kan ook internasionaal kommunikeer deur net die regte "Talk Group" of reflektor te kies. Volgens die web is daar reeds 37 amateurs in Divisie 1 geregistreer om op die digitale herhalers te werk. Daar is 18 DMR herhalers in Suid Afrika aanlyn, met 263 roepseine geregistreer. Vir meer inligting oor die Digitale Herhalers en ander herhalers besoek www.wcrwg.co.za.

WESRAND ARK SNUFFELMARK

Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 24 November 2018 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting skakel Phillip, ZS6PVT op 083 267 3835.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Tans is daar slegs 'n enkele, baie klein sonvlekkie sigbaar. Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan moontlike goeie openinge op die 15 tot 30 m bande verwag.
Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

19 November – die sluitingsdatum vir PEARS HF logstate en BHF/UHF logstate.
22 November – die sluitingsdatum vir Desember Radio ZS.
23 November – Sluit by die SARL aan vir R99 en die Kaapstad ARS Jaareind Funksie by die klubhuis.
24 November – die SARL/AMSAT SA Werkswinkel, die Newbie Geselligheid en die Wesrand ARK Snuffelmark.
24 en 25 November – CQ WW DX Gelykgolf Kompetisie.
1 Desember – die begin van die YOTA Maand 2018.
3 Desember – Internasionale Dag vir Mense met Gestremdhede.
8 Desember – die Boland ARK AJV.
8 en 9 Desember – ARRL 10 m Kompetisie.

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

SLUIT BY DIE SARL AAN VIR R99

Die SARL bied jou die kans om vir net R99 op Swart Vrydag 23 November 2018 by die Liga aan te sluit. Jy moet verseker dat jou aansoekvorm en die R99 op Vrydag 23 November ingedien word. Dit is deel van die SARL se Swart Vrydag-veldtog.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, geredigeer deur Dennis Green, ZS4BS en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse Nuusspan groet nou en wens jou ‘n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003